Rose vir Roselle
Rosita Oberholster
’n Ontroue verloofde en haglike finansies bring Roselle terug op die familieplaas wat hare sal word wanneer haar twee tantes die dag nie meer daar is nie.
Terug hier op La Roseraie lyk dit nie asof die spogroosplaas so winsgewend is as wat haar tantes haar laat verstaan het nie. Dalk was dit, maar nou kort die plaas ’n ferm hand. Droogtes het hul tol geëis en mense haal nie meer so baie geld vir hierdie eksotiese blomme uit nie.
Om alles te kroon, het haar tantes ’n swerwer wat vir kos en verblyf werk, ingeneem. Roselle vertrou hom nie. Wie is hy en waar kom hy vandaan? Wat soek hy hier? Haar tantes weet nie en hy weier om haar te sê toe sy hom direk vra.
Tog, hy help en om vorentoe te boer, sal sy die swerwer se hulp nodig hê.
Haar eksverloofde se meesterlike vermoë om te manipuleer het egter steeds gevolge en Rosalie se trots maak dat sy weier om die swerwer se raad te vra.
Rose vir Roselle is ’n meer verwikkelde, langer romanse wat gekenmerk word deur sterk verhoudings en karakters. Die skrywer het probeer om nie net te fokus op die ontwikkeling van die broodnodige romanse tussen die hoofkarakters nie, sy het ook ’n paar verrassingselemente ingewerk om lesers se lekker te laat vermenigvuldig.
Dit is Rosita Oberholster se eerste SuperRomanza. Sy het die ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses in 2017 met Troue in ’n towerbos gewen.
Rose vir Roselle is geskryf ter nagedagtenis aan die skrywer se babasussie wat net sewe weke oud geword het – haar naam was Roselle. Die baba se graf dra die inskripsie “Laat die kindertjies na My toe kom…” en word ook in die boek genoem.
Liefde op Petit Paris
Frenette van Wyk
In die ou Kaap de Goede Hoop stap ’n jongmeisie aan wal ná die vervolging van Protestante in Frankryk. Omdat Royale op die seereis haar ouers verloor het, is sy nou ’n weeskind in ’n land wat sy nog nooit gesien het nie. Die goewerneur wys Aragon as haar voog aan, ook ’n Hugenoot wat vroeër aan die Kaap ’n nuwe begin kom maak het.
Aragon is gekant teen Royale se liefde vir balletdans – dié ydele vermaak wat aan Louis die Veertiende se hof so modieus is – en wil haar nie toelaat om kontak met jongmans te hê nie. Dit is egter nie al wat Royale hinder nie, want sy weet nie waarheen met haar romantiese gevoelens vir haar voog nie, en die swaard van ’n huwelik met sy neef hang oor haar kop.
Boonop is dit ook nie net Royale wat besef wat ’n onweerstaanbaar aantreklike man Aragon is nie! Die ander vrou, Amalia, het boonop ’n dodelike wapen: Die plaas Petit Paris, waarop Aragon boer, behoort aan haar…
Lenteliefde
Alma Carstens
Milan keer ná haar suster se dood terug na SA om haar swaer en sy kinders by te staan. Ou gevoelens begin weer blom, maar wat steek Etienne vir haar weg? Mag Milan hoop op liefde in die lente?
Alma Carstens woon in Bangkok, Thailand en is tans een van LAPA se Top 10 beste verkopers onder fiksieskrywers. Sy skryf om die verlange na Suid-Afrika te help stil.
Blameer die skoenlapper
Elsa Winckler
Josh neem vroumense uit en hy hou van hulle. Sodra hulle oor babatjies begin koer en vassteek voor juwelierswinkels, groet hy egter. Maar nou het hy Catharien ontmoet. Dis ’n probleem, want skielik wil hy bly … Blameer die skoenlapper is ’n Romanza met ongelooflike diepte. Dis ook een van die mees romantiese liefdesverhale wat in ’n lang tyd verskyn het.
Elsa Winckler is ’n internasionaal gerekende romanseskrywer en het al drie keer die ATKV Woordveertjieprys vir Romanses gewen. Die heldinne in haar stories is onafhanklik, hardekwas en nie skaam om hulle sê te sê nie. Die helde is sterk, maar is ook sensitief vir die onderskeie heldinne se behoeftes. Elsa woon op Bettysbaai saam met haar man. Hy is haar studenteliefde.
Wie nie waag nie
Annetjie van Tonder
Gabi het op skool vir Reuel afgeskryf as ’n nerd. By hul reünie twintig jaar later is die nerd nie meer ’n nerd nie, maar ’n aantreklike man vol selfvertroue. Sy wil, maar sal hy haar kan vergewe?
Liefde in letters
Rika du Plessis
Jennifer se hart mis ’n slag. Waldo, die man wat sy nooit kon vergeet nie, staan weer voor haar. Maar hulle kry nie ’n tweede kans nie, want hy onthou haar nie, boonop is hy verloof. Tog laat ou liefde hom nie so maklik afskud nie.
Uitgelewer aan die liefde
Marilé Cloete
Hoe gemaak wanneer ’n rofstoeier en skoolhoof op ’n klein Karoo-dorpie koppe stamp? Voeg ’n wysneus-tienermeisie, asook ’n hele paar rondloperkatte by en jy het ’n resep vir moeilikheid. Of wag, dalk net dalk, ’n resep vir liefde?
Marilé Cloete is die skrywersnaam wat Alta Cloete gebruik wanneer sy haar hand aan ʼn romanse waag. Sy is baie trots daarop dat haar Romanzas net so goed vaar as haar ernstiger werk.
Liefde op die Nyl
Joléne de Koningh
Haar suster en ma reken ’n bootreis op die Nyl sal finale berusting vir haar bring ná haar verbreekte verlowing. Troos kan egter verskillende vorme aanneem en in hierdie geval is hy aantreklik – lank, breedgeskouerd en gespierd.
Joléne de Koningh is die Romanza-skrywersnaam van Lien Roux-de Jager. Sy skryf ook spanningsverhale, kortverhale, kinderverhale en historiese romans.
Fees van versoening
Anna Penzhorn
Mia moet ’n artikel oor die kunsskatte van die Van der Bijl-familie skryf. Max van der Bijl is koud en berekenend, maar hy maak ook haar knieë lam. Liefde tussen hulle is egter taboe. Sou sy kom kies, verloën sy haar familie.
Liefste tinktinkie
Corné van Rooyen
Carlie verskil heeltemal van die vrouens met wie Armand daagliks te make het en prikkel daarom sy belangstelling. Hy het egter vantevore sy kop met ’n jonger vrou gestamp en sal nie toelaat dat dit weer gebeur nie.
Corné van Rooyen het ná skool deeltyds gewerk en studeer toe deur Unisa waar sy haar LLB-graad verwerf het. Sy was nog altyd baie lief vir lees en het van kleintyd al haar eie stories geskryf met die droom om in gewilde skrywers soos Ena Murray en Schalkie van Wyk se voetspore te volg.
Hartewens
Madelie Human
Madelie Human is een van Afrikaans se gerekende romanseskrywers en het al meer as 130 000 boeke verkoop. Sy skryf oor die ligter kant van die liefde en daarom is haar romantiese komedies so uiters gewild.
Hartewens is ’n samestelling van drie van Madelie Human se vorige Romanzas, Onwelkome geskenk, Handomkeer en Le Fleur se hartebreker.
Madelie se eerste romanse, Om Ben lief te hê, is in 2009 met ’n ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses bekroon.
Onwelkome geskenk: Marile vertrou glad nie die Werner-vent wat met haar oupa konkel én haar knieë lam maak nie. Hy is immers net nóg een van die mans wat in haar geld belangstel. Of maak sy ’n fout?
Handomkeer: Bea kom uit Johannesburg se agterstrate maar veg haar pad oop tot sy een van dié wynmakers in die land is. Wat haar hinder, is dat die wynplaaseienaar verraderlike dinge aan hart en lyf begin doen.
Le Fleur se hartebreker: Voor die oestyd verby is, is Janneli een van die vroue in sy album vol gewese meisies. Dit is wat die Franschhoekvallei se hartebreker haar wed! Wel, ons sal sien, besluit Janneli.
Hartsbegeerte
Madelie Human
Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Madelie Human se vorige Romanzas, Terug na jou, Kolwyntjie en Altyd die strooimeisie.
Terug na jou: Een naweek het Mercia, Le Fleur-wynlandgoed se eienares, ’n man ontmoet aan wie sy onmiddellik verknog geraak het. Maar dit was net ’n droom want hulle was albei getroud; sy vrou sieklik en Mercia se man ’n pierewaaier. Nie een kon skei sonder om ander se lewe te verwoes nie. Hulle het mekaar prysgegee.
Kolwyntjie: Die gebakwinkel is Melani se droom wat werklikheid word. Haar ander droom word spoedig ’n nagmerrie toe haar en die mediese dokter se paaie kruis in dieselfde kantoorgebou. En nie sommer enige dokter nie, nie eens sy tweelingbroer kan aan haar doen wat hý met sy intense grys oë doen nie!
Altyd die strooimeisie: Zoë Davel besluit om nooit weer voor die kansel te staan nie – nie as strooimeisie nie en beslis ook nie as bruid nie, al stuur die hoogs aantreklike Meyer Malan haar hart heeltemal in ’n aweregse wentelbaan.
Boekbesonderhede
- Rose vir Roselle deur Rosita Oberholster
EAN: 9780799386950
Find this book with BOOK Finder!
- Liefde op Petit Paris deur Frenette van Wyk
EAN: 9780799387131
Find this book with BOOK Finder!
- Lenteliefde deur Alma Carstens
EAN: 9780799387049
Find this book with BOOK Finder!
- Blameer die skoenlapper deur Elsa Winckler
EAN: 9780799387018
Find this book with BOOK Finder!
- Wie nie waag nie deur Annetjie van Tonder
EAN: 9780799387070
Find this book with BOOK Finder!
- Liefde in letters deur Rika du Plessis
EAN: 9780799387100
Find this book with BOOK Finder!
- Uitgelewer aan die liefde deur Marilé Cloete
EAN: 9780799386837
Find this book with BOOK Finder!
- Liefde op die Nyl deur Joléne de Koningh
EAN: 9780799386868
Find this book with BOOK Finder!
- Fees van versoening deur Anna Penzhorn
EAN: 9780799386899
Find this book with BOOK Finder!
- Liefste tinktinkie deur Corné van Rooyen
EAN: 9780799386926
Find this book with BOOK Finder!
- Hartewens deur Madelie Human
EAN: 9780799386981
Find this book with BOOK Finder!
- Hartsbegeerte deur Madelie Human
EAN: 9780799387162
Find this book with BOOK Finder!